Nasionale Opbrengskompetisie

Graan SA se Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie het ten doel om ‘n platform te skep waar graanprodusente vir die beste opbrengs per kategorie kan meeding om nader aan die genetiese potensiaal van die verskillende graangewasse te beweeg en om bowenal van mekaar te leer. Graanprodusente ding in verskillende kategorieë, waaronder droë- en besproeiingsgrond, mee en word in beide streke en nasionale deelname ingedeel. Innoverende produksiepraktyke en slim boerderyplanne word aangemoedig om die hoogste opbrengste per hektaar te behaal, ongeag die kultivar wat geplant is. Dié kompetisie is die enigste in sy soort wat deur Graan SA aangebied word en sluit die produksie van mielies, koring, sonneblom en sojabone in. Graan SA lede kan gratis inskryf.

Doel van kompetisie

Pioneer het vanaf 2017 tot 2019 die Pioneer Weeg en Wen-kompetisie met sukses in Suid-Afrika aangebied. Dié kompetisie het goeie uitbreiding getoon en is nou gereed om selfs groter te word. As ‘n gevolg, het Graan SA met die hulp van Pioneer, ‘n nuwe opbrengs kompetisie gevestig waar produsente innoverende produksiepraktyke kantoets om sodoende die hoogste opbrengste te bewerkstellig.

‘n Kompetisie soos dié bied die geleentheid om saad- genetika en tegnologie se uiterstes te toets, maar bied bowenal aan produsente die geleentheid om van mekaar te leer met betrekking tot presies wat moontlik is. Die hoogste opbrengs is natuurlik nie altyd die optimale winsgewendheidsvlak nie, maar dit bied geleenthede om te sien waar die grense lê en wat vermag kan word.

Die Nasionale Opbrengs-kompetisie bied saadmaatskappye verder die geleentheid om hul eie kompetisies te vestig en sodoende die plattelandse omgewing te ondersteun. Daar is reeds talle bestaande projekte wat ondermeer skole, kerke en nie-winsgewende organisasies ondersteun. Die nuwe nasionale kompetisie bied almal die geleentheid om eie inisiatiewe aan die dag te lê, maar ook om deel van die nasionale kompetisie te wees. Die formaat stel individuele produsente in staat om in te skryf en bied verder aan saadmaatskappye die opsie om drie van hul beste opbrengste in elke kategorie in te skryf.

Protokol

In oorleg met saadmaatskappye het Graan SA ‘n standaardprotokol vir kommersiële produsente opgestel, asook ‘n protokol vir kleinskaalse boere ter ondersteuning van ‘n nasionale kompetisieformaat, om deursigtigheid en standaardpraktyke te verseker en sodoende te verseker dat vergelykings getref kan word.

Borge

Om die suksesvolle aanbieding van ‘n Nasionale Opbrengskompetisie te realiseer, is die ondersteuning van landbouvennote uiters belangrik en Graan SA is trots om aan te kondig dat Pioneer, ondersteun deur Corteva, die hoofborg van die 2020 spog geleentheid was. Daarbenewens was FNB, John Deere, Santam, Syngenta, Bayer en Agro ook aan boord en Graan SA bedank die landbou-vennote vir hul samewerking.

Soortgelyke kompetisies vind reeds plaaslik en internasionaal plaas, maar Graan SA kan met die vennootskappe van alle saadmaatskappye, produsente die geleentheid bied om alle kultivars, wat tegnies oor dieselfde kam geskeer word, te vergelyk binne unieke en individuele produksiepraktyke.